Saterdag 20 April 2019

'n Tuin is 'n lieflike plek. 'n Tuin met voëls in is nog beter! Langs my slaapkamer hang 'n voerplankie aan 'n boomtak. Vir 'n lang tyd het ek nie saad gekoop nie....en my kuiergaste was skaars.
Onlangs het ek besluit: "Koop saad! Die kos in die veld raak minder, die winter lê voor en die voëltjies is honger!" Onnodig om te sê, my geveerde vriende het weer in al hul glorie en kleur opgedaag, selfs janfrederik, my gunsteling, wat ek so lanklaas gesien het. Was ek bly!


Janfrederik is nie eintlik 'n saadvretende voël nie, maar is lief vir sy meelwurms of 'n stukkie maalvleis en kom soek nou weer gereeld daarna. 


Hierdie mooiste van alle mooi voëltjies het sy naam te danke aan sy kenmerkende roep: "jan-fre-de-rik!" As hy in my tuin verskyn, 'n rukkie stilsit, vir my loer met sy kraalogies, dan wéét ek sommer dit sal goed gaan vorentoe, ek glo dit en ek wéét dit net! 

Donderdag 31 Augustus 2017

Die vreugdes van 'n tuin

Noudat die eerste groen blaartjies van 'n nuwe seisoen weer oral aan die bome verskyn, die wit en pienk bloeisels van my enigste twee vrugtebome my elke oggend glimlaggend groet as ek die agterdeur oopmaak, nou kan my siel weer lewe!

Gister het ek gaan saad koop. 'n Tyd terug het ek die saadkopery gestop, die duiwe vreet alles binne sekondes op en my beursie raak al platter. Maar so met die koms van die lente en vrolike kleur wat oral in die tuin verskyn, raak my verlange na die voëls al groter.

Ek het mos 'n paar skilderye anderdag verkoop! Ek mag myself mos maar bietjie bederf. Ek koop die oulikste voëltjievoerder, van staal gemaak nogal. Dit het 'n selfvoerder binne en die opening aan die kant is net groot genoeg vir my geliefde geveerdes om rats in te kan glip en hul kroppies vol te vreet.

 Mossie was eerste nuuskierig!

 En toe bontrugwewer!

 Honger is nie 'n man se maat nie!

 Akrobaat by uitstek! Aanhouer wen!
 Mossie sit alles en betrag, sy maak 'n mooi prentjie tussen die perskebloeisels!
 Toemaar, daar val saad op die grond ou Duifie....wag net!
 Die dae van porseleinkoppies vol saad is getel, dit was mooi, maar het nie so goed gewerk nie!
 Lemoen vir nagereg!

 'n Baie welkom besoeker vir 'n paar oomblikke: hoep-hoep bo in die boom. Maak my hart so bly!

 Nog 'n nie-so-baie-bekende geveerde vriendjie! Dikbekwewer. Pragtig vir my!
My bonus vir die dag: suikerbekkie kom suig sy nektar uit die aalwynblomme. Om van dié knapie 'n foto geneem te kry, vra baie geduld. Maar dis altyd die moeite werd!

Vrydag 24 Maart 2017

Klein vreugdes

"Die jaar word ryp in goue akkerblare, in wingerd wat verbruin...." het N.P. van Wyk Louw jare terug digterlik neergepen. En noudat dit koeler raak en winter saggies naderkruip, word die wilde voëls se besoeke aan my tuin ook meer, want kos in die veld raak skaars.
Die grootste vreugde is natuurlik om my gunsteling geveerde te aanskou. Janfrederik!

 Wanneer hy op die voerplankie neerdaal en die wêreld met blink ogies bekyk, sy sappige meelwurms een vir een oppik en konsertveer weer wegvlieg, word my dag sommer onmiddellik beter en mooier!

Maandag 13 Februarie 2017

Geliefde voëltjies oral in ons land

Ek was onlangs bevoorreg genoeg om vir 'n paar dae na Mount Amanzi te kon gaan. Om in die natuur te wees, maak my sielsgelukkig.

Naby ons hut was daar baie dikbekwewernessies, netjies vasgegras aan die palmiete en riete. Ons kon voortdurend na die donkerbruin dikbekwewers se vrolike liedjies luister. En ook hul bedrywighede dophou. Onophoudelik het hulle heen en weer gevlieg, nog nessies gebou, klein dikbek-kindertjies sorgsaam gevoed en baie min stil gesit. Omdat ek graag 'n foto van hulle wou hê, het ek maar geduldig gewag. En is ryklik beloon!





Inligting van Wikipedia: Die Dikbekwewer (Amblyospiza albifrons) is 'n algemene standvoël en plaaslike nomade van woudrande en welige plantegroei, dikwels naby water. Hulle bly gewoonlik in klein kolonies met netjiese, fyn geweefde neste wat 'n syingang het en aan riete geheg is. Die slaapneste het groter ingange as die broeineste. Die voël is poliginies. Die voël is 18 cm. groot en weeg 35 - 56 gram. In Engels staan die voël bekend as die Thick-billed Weaver.

   HALF-COLLARED KINGFISHER / BLOU VISVANGER
Daar was baie ander soorte voëls te siene o.a. die lieflike visvangers. Wanneer 'n blou visvangertjie oor die water swiep, was dit asof ek 'n present uit die hemel ontvang! Hoe lieflik is hulle nie net nie. Om nie eers van hul bekoorlike liedjies te praat nie. As mens saam met jou eerste wakkerword na sulke mooi bosveldklanke kan luister, loop jou beker oor.
 Van voor en van agter ewe pragtig!

 In vergelyking met die ander visvangervoëls is die bosveldvisvangers van medium grootte en 20–23 cm in lengte. Die volwassenes het 'n helderblou rug, vlerkpaneel en stert. Hulle koppe, nekke en onderdele is wit en hulle het swart skouers. Die vlug van die bosveldvisvangers is vinnig en direk. Die groot snawel het 'n rooi bo-kaak en 'n swart onderkaak en die bene is helderrooi. Sommige voëls het 'n gryserige kop, wat verwarring met die manglietvisvanger veroorsaak.
Die gedeelte tussen die snawel en die oog is egter donker en skep 'n donker streek deur die oog.
Daar is nie 'n verskil tussen die voorkoms van die mannetjies en wyfies nie, maar die jonger voëls se kleure is nie so helder nie en hulle het 'n bruin snawel.

Twee saam, een jonger as die ander een. 

Die bosveldvisvanger jag van 'n oop tak af, of sal stil sit in gedeeltelike skaduwee en na kos soek. Die prooi is meestal 'n wye veskeidenheid insekte, maar ook spinnekoppe en ander geleedpotiges, slange, visse en paddas. Om te kan beleef hoe hulle blitssnel 'n vissie uit die water oppik en dan êrens 'n rustige sitplek te soek, is 'n wonderlike voorreg vir enige natuurliefhebber.

Natuurlik is dit heerlik om 'n waterverf skildery van 'n soortgelyke en kleurvolle voëltjie te verf, nl. die kuifkopvisvanger.
Kom kuier in my winkel!

Sondag 08 Mei 2016

"Cheers!"

Vandag is 'n mooi dag! Die glasogie(s) het weer kom kuier! En ek kon baie foto's neem, want die rooi koeldrank is heerlik soet en net wat klein glasogies nodig het om lank en gelukkig in my tuin te kom woon! Geniet die video!

Vrydag 06 Mei 2016

Rooi koeldrank is nie net vir kinders nie.

Toe ons kinders was, was rooi koeldrank die hoogtepunt van 'n verjaarsdagpartytjie! Nou is dit die spreekwoordelike wortel voor die geveerdes se snawels! Ja, ek het 'n bottel vol rooi gekleurde suikerwater aan die perskeboom se tak gehang en raai wie was my eerste besoeker?
Glasogie homselwers.


'n Geseënde oomblik voorwaar! Ek hoop om ook suikerbekkies op dié manier nader te lok.

Saterdag 27 Februarie 2016

Kuiergaste oor die naweek

Iewers in hierdie tuin vlieg 'n paradysvlieëvangertjie rond. Woerts-warts! En weg is hy! Van stilsit is daar nie sprake nie, maar wag maar, eendag is eendag....dan neem ek die perfekte foto van die klein lieflikheid.

Intussen kom kuier die meer gereelde geveerdes darem ook nog altyd. Dankiebly daaroor!
Kraalogies of glasogies bly maar altyd ook een van my gunstelinge. Wat sal die lekkerste proe? Die stukkie appel of die druiwekorrel? Hierdie klein voëltjies is om en by elf cm. hoog en weeg elf gram. 'n Handjievol goue vreugde! Streeksname vir die voël sluit in: meelogie, kersogie, ringogie en piet-la-pok. (Wikipedia)


'n Vrugtevreter wat soms taamlik aggresief raak, is die rooikophoutkapper. Ek het vanoggend gesien hoe hy twee lysters (wat fisies groter is as hy) wegjaag, want hy wou die appel vir homself hê.
Die Rooikophoutkapper (Lybius torquatus) is een van die houtkappers wat die volopste is in Afrika en kom voor vanaf die Demokratiese Republiek van die Kongo en Kenia tot in Suid-Afrika. In Engels staan die voël bekend as die Black-collared barbet. (Wikipedia)


'n Jong olyflyster. Die klein gespikkelde knaap vlieg die afgelope week oral saam met sy ma in ons tuin rond en mens hoor hul skerp "twiet-twiet"- geluide heeldag lank. Eerste om wakker te word en laaste om te gaan slaap.

Donderdag 24 Desember 2015

Kuiergaste voor Kersfees

Die afgelope drie dae het drie verskillende geveerdes hul opwagting in ons erf gemaak. 'n Kwêvoël, janfrederik en 'n lyster. Elkeen met sy eie unieke persoonlikheid en maniere. Die Kwê het 'n paar vriende saamgebring en hulle het hulself tuisgemaak op die vygie en aan die dooie, droë blommetjies begin kou.



Hulle was baie woelig en ek het my verwonder aan hul amper "vraatsige" maniere!


Janfrederik is natuurlik my gunsteling der gunstelinge en ek het myself al wysgemaak dat 'n dag net liefliker as gewoonlik gaan wees as ek vir janfrederik iewers te siene kry! Kyk net hoe pronkerig stap hy hier rond op soek na lekker vet wurmpies in die grond.

Ek het al baie keer gehoor die kraaie gaap so warm is dit. Wel, vandag het ek gesien hoe 'n lyster gaap. Dis 38 grade en die son vat dooierus. Nie 'n teken van reën nie. Geen wonder ou geelbeklystertjie sit en gaap so gesellig hier op die muur nie!
Miskien is dit juis 'n teken dat heerlike reëns op pad is, wie weet? Nietemin, die verskillende voëls wat ons daagliks besoek, verskaf ure en ure se kykgenot op hierdie snikhete somersdae.
En ons sê dankie daarvoor!

Vrydag 27 November 2015

Voëls in ons tuin

Om die geveerdes dop te hou, 'n nuwe kuiergas elke nou en dan te sien, 'n gelukskoot-foto te kan neem wat mooi duidelik uitkom en om dan bàie meer te wete te kom van dié besoeker, dit is pure plesier! En dit het die afgelope jaar in 'n heerlike stokperdjie ontaard waaroor ek net dankbaar kan wees.
 Nou anderdag sien ek vir die eerste maal sedert ons hier woon 'n koningrooibekkie. Wat 'n lieflike ou dingetjie is dit nie! Later sien ek nog een, die nie-broeiende mannetjie. Hy verskil van bg. broeiende mannetjie in heelwat opsigte:
’n Broeiende mannetjie is onmiskenbaar; hy is swart aan die bokant met ’n wit agternek en onderste dele, ’n rooi snawel en verlengde stertvere. As die broeiseisoen verby is, begin hy nes sy wyfie lyk: bo-op dofgeel, onder ligkleurig en met ’n duidelik gestreepte swart-en-dofgeel kop. 




Jy kan die mannetjie en wyfie egter onderskei deur na die snawel te kyk; die mannetjie se snawel is rooi en die wyfie s’n is bruin. Onvolwassenes is ’n effekleurige bruin. Koningrooibekkies is aggressiewe voëls wat ander spesies wegjaag by voerplekke. Hulle vreet hoofsaaklike sade, maar sal ook insekte vreet, en bly in grasveld, savanne, struikgewasse, tuine en parke. (Wikipedia) 

Ek voel uiters bevoorreg dat ek beide dié mannetjies hier in ons tuin kon raaksien. Ek wonder waar die wyfie is en of hulle dalk 'n nes naby het. 


Hierdie is 'n dikbekwewer. 'n Mooi voël wat ook nog selde in ons tuin gesien is. Die mannetjie is sjokoladebruin, het 'n wit vlaggie op die vlerk en 'n wit kol op sy voorkop. Sy nes lyk amper soos dié van 'n geelvink. Dit is immers familie van hom.
Rooivink. Maklik om raak te sien. So 'n helderrooi jassie is tog te pragtig. Kleinerig. Swart pens en swart gesigmasker.  Onder is 'n jonger vink. Hulle word later heeltemal rooi met 'n swart kop.

Onder: Paradysvlieëvanger, 'n wyfie. Die mannetjie het twee lang stertvere. Dis presies die tweede keer dat ek dié pragtige voël in ons tuin gewaar.Wat 'n groot voorreg is dit nie! Die eerste keer het ek selfs 'n vers daaroor geskryf: 

Vere

Op ‘n dag soos vandag
kom speel paradysvlieëvanger 
wegkruipertjie tussen groen blare 
langs my slaapkamervenster -
sy stert hang lang oranje linte,
swiepswaai tussen die takke
soos hy vlieg en draai
en sy helder liedjie sing
wat warm vreugdes bring
op ‘n dag soos vandag
Elizabeth Kendall ©


Saterdag 07 November 2015

Kuiergaste

Vandag was 'n warm dag. Selfs kwikstertjie het 'n oomblik by die waterbak kom sit. Tortelduif was omtrent in droomland, sy het heerlik weggedommel in die laat middagson. En lyster met sy geel snawel het ook kom kuier!
Kyk hoe mooi.....almal met hul grys klere aan!


Sondag 25 Oktober 2015

Ons mossies

Ja ons s'n! Hulle nes is reg bokant ons koppe as ons 'n tydjie maak om in die koelte langs die rondawel te gaan sit en ontspan en oor die dag se gebeure gesels. Ons mossies. 'n Mannetjie en 'n wyfie. Lieflik. 

 Hier is die wyfie met 'n happie in die snawel. 

Die nes is klaar, nou is dit tyd om eiers te lê en te broei. Sommer net hier naby. 

Maandag 19 Oktober 2015

Net 'n mossie

'n Klein en baie bekende bondeltjie vere. 'n Mossie. 'n Valetjie, 'n wyfie. So mooi. So eenvoudig. So uniek. Sy kom sit op die tuinbruggie se reling 'n paar treë van my af. Dis eers toe ek die foto op my rekenaar aflaai dat ek die wurm in haar bekkie sien. Ek sou my hande bakhand om haar wou vou, ek sou haar sagte koppie wou streel. Ek kyk na die foto met groot waardering. Ek skryf 'n paar sinne op my blog. Ek bou vir my mossiewyfie 'n monument. 'n Prentjie vol hoop. 


Sondag 04 Oktober 2015

Somer- en sonskynstories


Dis warm. Die voëls weet dit. Die honde weet dit. Ons weet dit. Dis somer in Suid-Afrika. 'n Hittegolf met temperature van 32 grade en meer tref die binneland. Almal snak na asem en soek maniere om af te koel. Toe ek na buite kyk vanoggend, sien ek hoe hierdie tortelduifie dooierus in die waterbak vat. 'n Geluksalige uitdrukking in die ogies.  Ek was sommer lus om haar te gaan geselskap hou! 

Die rooikophoutkapper wat altyd nogal skugter is om te naby aan ons te kom, het ewe kordaat kom water soek in die honde se drinkbak, 'n paar treë vanwaar ons gesit en hom dopgehou het.  
Gelukkig was ek betyds om 'n foto te kon neem. Ek verwonder my altyd aan sy sterk, dik snawel. Met hierdie snawel kan die rooikophoutkapper nie alleen die vrugte waarvoor hy lief is, uitmekaar skeur nie, maar selfs ook neute kraak. 



Nie te lank nadat die mooie rooikophoutkapper weggevlieg het nie, het tortelduif weer haar verskyning gemaak. Die water was heerlik. Kyk hoe tap dit teen haar krop af. Ek kon nie help om aan die woorde te dink wat ek iewers op die internet gelees het nie:  As gevolg van die ongewone geluid van die voëls se roep in die bos word daar gesê dat die roep van die duif in die oggend is: "werk haaarder, werk haaarder", en in die aand sê die roep: "drink laaager, drink laaager."
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...