Saterdag 29 Augustus 2015

'n Asgrys loerie

'n Kwêvoël word meestal met die Bosveld geassosieer. Tog sien ons heel dikwels een of meer van hulle hier in die dorp en ag ek my gelukkig as hulle in ons erf kom water drink en vir 'n wyle stilsit. In Engels is sy naam: Grey Go-away bird, heelwaarskynlik na aanleiding van sy roep wat klink na "go away!" 
By Weesgerus, naby Nylstroom, sien mens baie van hulle en hoor mens kort-kort die kenmerkende "kwê!" tussen die bome deur. Hulle eet graag vrugte, sade, insekte en is ook lief vir 'n stukkie brood wat as lokaas aangebied word.
Nie so kleurvol soos die res van die loerie familie nie en tog ook mooi op sy eie manier.

 Laatmiddag se kuiertjie by die waterbak. Kyk hoe blink die druppel aan sy snawel. 

Donderdag 27 Augustus 2015

Tiptol

As 'n tiptol kom kuier is ek sommer dadelik bly. Nie net klink hul naam soos iets ver-bo-dese-aardse-smarte nie, hul liedjies en voorkoms is uiters sag op oor en oog. "Pietpietpetaata!" sing hy vanuit die appelkoosboom hier bokant my. Hulle eet graag vrugte en insekte. Hul goudgeel onderstertdekvere is kenmerkend. Vandaar ook sy mooi, beskrywende  Afrikaanse naam: bottergat. Hierdie een is die swartoog tiptol met sy donker kop en klein kuifie. Drie tiptolfamilies nl. rooioog-, rooibek- en Kaapse tiptolle kom oral in Afrika voor. Hulle word hoofsaaklik aan hul oë uitgeken. 


 "Klaaskluitjiekorrel" is ook een van tiptol se name. 

Maandag 24 Augustus 2015

Hallo Houtkappers !

Ek wag en wag. Nie soos in sit en niksdoen nie, maar net geduldig wag. Elke dag. In my gedagtes wag ek. Ek hoor hom iewers bokant my kop. Sy kenmerkende roep is musiek in my ore. Maar ek sien hom net nooit. Die hele winter gaan verby. Sy naamgenoot met die rooikop nl. rooikophoutkapper, kom kuier gereeld, byna elke dag. Ek kom agter dat lg. baie lief is vir vrugte en hy "steel" ook graag die janfrederik se meelwurms.

 Tog gee hy soveel kleur aan die vaal wintertuin.
 
 
My geduld word beloon. Uiteindelik! Op die heiningpaaltjies, toe die helder sonstrale op hul skerpste op Moederaarde skyn, kom sit my lankverwagte geveerde vriend vir 'n paar sekondes. Is hy nie pragtig nie?
 
 
Die Kuifkophoutkapper (Trachyphonus vaillantii) is 'n voël wat aan die familie van Afrika-houtkappers (Lybiidae) behoort. Hulle kom in oop savannes in Afrika suid van die Sahara voor. In Engels staan die spesie as die Crested Barbet bekend. Die spesie kan maklik aan hul dik snawel en kleurvolle vere uitgeken word. Hierdie klein voëltjie het 'n geel en rooi gesig met 'n klein swart kuifie. Die pens is geel met rooi spikkels, die vlerke is swart met wit spikkels en dit het 'n breë swart band op die nek. (Wikipedia)

Kuns: Voëls

Om voëls en ander geveerdes te skets of teken is altyd 'n uitdaging. Ek wil probeer om die wonder van hul kleure, grootte en vorm oor te dra in my sketse en skilderwerk. Elkeen is uniek. Elkeen is wonderlik. Die natuur se skoonheid is ver verhewe bo enige-iets mensgemaak. Mag my werk vir jou ook vreugde verskaf !
                                         Hen en haan en hul kroos
Kom kuier op Redbubble as jy meer wil sien!





 Hoe maklik en lekker is dit nie om 'n kuiken te teken nie! Hierbo is 'n gawe voorbeeld van kinderkuns.



Hierdie kuiken- prentjie het baie genot verskaf: die lyne is met Bostikgom getrek en aan die brand gesteek. Kinders geniet dit baie! En die eindresultaat is iets uniek.
 Lees meer oor hoe om dit te doen op my blog: Kreatiewe Joernaal. Geniet!
Twee rooiborsduifies in my voortuin, rustig op die stomp. Olieverf gedoen nàdat ek 'n foto van hulle geneem het. Op RedBubble kan verskeie produkte van bg. skildery gekoop word.

Ek het ook 'n skildery in waterverf (gouache) gedoen van dieselfde foto. Hier is talle rooiborduiwe in ons tuin. Hul sagte koergeluide is deel van ons elke-dag-lewe. So gerusstellend. Klik op dié skakel as jy na beskikbare produkte wil loer: RedBubble

 

Verse oor voëls

                                                                          Lewensvreugde
 
Pluk ‘n handvol drome
 met sterre in jou oë
 wys dat jy ook omgee
 en aan liefde glo 
hoor hoe sing die geelvink
 die tiptol en t’rantaal
 dis agter uit die berge
 waar hul die fluit loop haal
pak jou sorge in ‘n streepsak

  lag en wees weer bly
 sukkels lê mos agter
 vandag is jy tog vry 
blink jou oë van blywees
 of buig jou skouers krom
 dink nie eers nog eenmaal
 gee alle eer aan Hom 
lewe is mos lekker
 kom leef nou saam met my
 bars ons uit ons nate
 juigend-jubelbly

 Elizabeth Kendall © 

 

Rooikopvink 


Pienkdun is sy voëltjiebene
fyn porselein onder omkrultone
en blommetjies,
blommetjies die hele wêreld vol
pik-pik hy versigtig aan die saad
om krag te kry,
genoeg krag vir vandag
want hy wil sy vlerke sprei
en vlieg


Elizabeth Kendall ©
 

Goudgeel vreugdes

Min dinge is so lekker as om kamera-in-die-hand buite in die natuur te wees en voëls dop te hou. Bontrugwewer was gister weer besonder doenig en het ons dag goudgeel ingekleur!


 Amper daar! 

 Nog 'n bietjie kuier! 

 Behendig klou die dun toontjies om die riet waaraan die koppie hang. 
Aan die kareeboom in ons voortuin hang alreeds 'n splinternuwe nessie. Gereed vir 'n nuwe seisoen. Ek wonder of sy wyfie dié keer tevrede gaan wees?

Saterdag 22 Augustus 2015

Jou eie tuin is die antwoord

Min mense besef dat hulle die natuur na hul eie voorstedelike- of dorpstuine kan bring, bloot deur water te voorsien en inheemse plante aan te skaf wat kos en skuiling sal bied aan veral voëls.
Ander maniere om voëls na jou tuin te lok, is om 'n voëlbad op 'n gawe plek in jou tuin te sit of  'n voerplankie met 'n verskeidenheid afvalstukkies - van gekapte vrugte tot sade en selfs meelwurms en stukkies kaas - iewers aan 'n tak op te hang. Ek het ook twee "getjipte" poseleinkoppies (my handige seun het dit vir sy ma gemaak) waarin ek 'n gemengde tuinmengsel saad gooi. Dit lyk nie net mooi nie, dit dien ook 'n goeie doel. 'n Waterhouer met gekonsentreerde suikerwater sal suikerbekkies lok. Hier by my lok die aalwynblomme die mooiste suikerbekkiepaar. Die beloning vir al hierdie moeite sal 'n tuin wees wat esteties baie bevredigend is en nie net vermaak nie, maar ook opvoeding verskaf.

 
 'n Mannetjie en wyfie suikerbekkie in ons tuin. Glo my, dit was nie so maklik om dié foto's te neem nie, want hierdie klein tot baie klein voëltjies is blitsvinnig! Die mannetjie is roetswart, sy kop bo metaalgroen en by sy keel langs metaalpers. Die wyfie is olyfgrys, onder romerig wit, swaar gestreep met swart op keel en bors. Hulle sing die mooiste liedjies...net vir jou en my!


Dié waterbak in ons voortuin is die kuierplek van menige geveerde vriend! Kyk hoe gelukkig sit en luister die lyster.

 
En so lyk dit soggens op die voerplankie. Rooikophoutkappers gee kleur aan die vaalste winteroggend. Karmosynrooi koppe, 'n breë, swart kraag rondom, die rug vaalgrys, slagvere het geel rande en hul pensies is vaal bleekgelerig. "Toeoeoe-kolletoeoeoe-kolletoeoeoee!" sing hulle hul helder duet.



Twee rooivlerkspreeus by die fontein. Hulle geniet die water, salig onbewus daarvan dat ek hulle dophou. Hul sterte is nogal lank en hul vere is glansend blink. Hul oë is donker en hul fluit soet note wat jou siel sal streel.

Mossie en sy vroutjie was eerste by die koppie vol saad vanoggend. Dit lyk asof sy 'n tafelgebed doen van blydskap! Mossies kom baie algemeen voor, tog bly hulle uniek en pragtig.

Muisvoël met sy lang, lang stert is 'n baie gereelde besoeker in ons tuin. Ek kan my so verwonder aan die manier waarop hulle van tak na tak wip en spring of plat op hul alies gaan sit. Hul snawels met die wit onder en donker bo, is ook kenmerkend. Hulle is vrugtevreters by uitstek. Daar bly amper niks oor van 'n stukkie lemoen wat iewers as lokaas neergesit is nie.  Hul rooierige beentjies beweeg rats van tak tot tak.

'n Bontrugwewer  (wyfie) kom kou 'n paar saliglekker saadkorrels.

'n Baie bekende gesig: twee tortelduiwe sit rustig en wag by die waterbak.

'n Vergadering: rooikopvinkies en 'n rooikophoutkapper, aldrie ewe dors!

En kyk net wie het kom kuier! Gunsteling der gunstelinge: janfrederik.  Die opvallende wit wenkbrou onderskei hom van die lawaaimakerjanfrederik. Sy Engelse naam "Cape Robin-chat" is so mooi. Meelwurms is sy gunsteling gereg.


Nog 'n bontrugwewer. Rooi oë is hul opvallendste kenmerk. En dis nie van moegheid nie, maar van mooigeit!

'n Muisvoëlpartytjie op die plankie! Kyk hoe sit hulle. Blykbaar word muisvoëls net in Afrika aangetref.

Glasogies bly vir my ook een van die bekoorlikste voëltjies. Ek raak sommer poëties deur net na hulle te kyk! Hulle is ook baie klein en baie rats...om 'n foto te kan neem, vra hope geduld. Tog bly die beloning altyd die moeite werd.
 

Vrydag 21 Augustus 2015

Waar het dit begin?

Ek kan nie onthou wanneer en waar dit begin het nie. My liefde vir voëls kyk. Die genot wat ek daaruit put om tot stilstand te kom en ons geveerde vriende dop te hou, te bewonder, te waardeer en so baie van te leer. Nietemin, dit het 'n tyd terug al begin, miskien eers nà my aftrede. Toe ek nog skoolgehou en kinders grootgemaak het, was ek skaars bewus van wie almal hier om my rondvlieg. Nou het ek tyd. 'n Wondergawe. Iets om elke dag dankbaar voor te wees. 'n Rooikopvinkie kom sit op die appelkoosboomtak. Hy blom tussen die nuwe botsels. My hart juig.

 
Rooikopvinke is baie klein, hulle bekkies is swaar / dik en hulle maak die mooiste "saaggeluide" as hulle hier in ons tuin bokant ons koppe sit en gesels. Klink kompleet asof hulle skinder. Die mannetjies se koppe is helderrooi, hul wyfies meer bruin. Hulle is baie lief vir die saad-tuinmengsel wat ek gereeld op die voerplankie of in die porseleinkoppies vir hulle uitstrooi.
 
 
 
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...