Thursday, 24 December 2015

Kuiergaste voor Kersfees

Die afgelope drie dae het drie verskillende geveerdes hul opwagting in ons erf gemaak. 'n Kwêvoël, janfrederik en 'n lyster. Elkeen met sy eie unieke persoonlikheid en maniere. Die Kwê het 'n paar vriende saamgebring en hulle het hulself tuisgemaak op die vygie en aan die dooie, droë blommetjies begin kou.



Hulle was baie woelig en ek het my verwonder aan hul amper "vraatsige" maniere!


Janfrederik is natuurlik my gunsteling der gunstelinge en ek het myself al wysgemaak dat 'n dag net liefliker as gewoonlik gaan wees as ek vir janfrederik iewers te siene kry! Kyk net hoe pronkerig stap hy hier rond op soek na lekker vet wurmpies in die grond.

Ek het al baie keer gehoor die kraaie gaap so warm is dit. Wel, vandag het ek gesien hoe 'n lyster gaap. Dis 38 grade en die son vat dooierus. Nie 'n teken van reën nie. Geen wonder ou geelbeklystertjie sit en gaap so gesellig hier op die muur nie!
Miskien is dit juis 'n teken dat heerlike reëns op pad is, wie weet? Nietemin, die verskillende voëls wat ons daagliks besoek, verskaf ure en ure se kykgenot op hierdie snikhete somersdae.
En ons sê dankie daarvoor!

Geseënde Kersfees!


Mag hierdie Kersseisoen vol vreugde en liefde vir jou wees!

.

Saturday, 19 December 2015

Janfiskaal (Lanius collaris)

W&N waterverf in my Natuurjoernaal – Janfiskaal in my tuin (Tarlton, Gauteng, Suid Afrika)

Janfiskaal, Laksman of Karnalliebyter – al drie name verwys na een en dieselfde swart en wit voëltjie, wat ondanks sy kleinte ’n grootte aanneem wat buite verhouding met die werklikheid is!

Dit is wel so dat janfiskaal af en toe ander kleiner voëlspesies, soos lemoenduifies en mossies, jaag en vang. Die prooi word blitsig van agter af ingevlieg en agter die kop doodgebyt.

Maar janfiskaal vang nie sommer elke dag vir homself ’n voël nie. Dit is eintlik net wanneer daar rasend-honger kleintjies in die nes is dat dit gebeur. En wie kan ’n dier of voël veroordeel wat goed vir sy kleintjies sorg? Ek self was baie kwaad vir my Laksmannetjie nadat sy my Janfrederik se kleintjies uit die nes gesteel het, maar met vier kleintjies wat sy so groot gesukkel het om gevoer te kry, het ek eintlik heeltemal verstaan en het haar baie gehelp deur stukkies maalvleis vir haar op die voertafels te sit. Die hele kroos het naderhand geweet dat, as ek verskyn, gaan hulle gevoer word!


Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...